top of page

Wie was die Hugenote?

calvyn.gif

Die Hugenote was Franse Protestante wat lede was van die Gereformeerde Kerk wat in 1550 deur Johannes Calvyn gestig is. Die oorsprong van die naam Hugenoot is onseker maar dateer uit ongeveer 1550, toe dit gebruik is in hofsake teen die "ketters" (afgewekenes van die Rooms Katolieke Kerk). As skimp- en skeldnaam is dit selfs verbied deur Hendrik IV (Hendrik van Navarre, wat self vroeër 'n Protestant was) in regulasies wat aan die Edik van Nantes in 1598 gekoppel was. Die Franse Protestante self het aanvanklik niks van die woord gehou nie, en verkieslik na hulle self as "réformees" (gereformeerdes) verwys. 

Dit was heelwat later dat die naam "Hugenoot" 'n erenaam geword het.

'n Algemene Edik wat die uitroei van die Hugenote aangespoor het, is op 29 Januarie 1536 in Frankryk uitgereik. Op 1 Maart 1562 is ongeveer 1200 Hugenote vermoor by Vassy in Frankryk. Dit was die begin van die Godsdiensoorloë wat Frankryk uit mekaar geskeur, verwoes en bankrot gemaak het vir die volgende drie dekades.

Johannes Calvyn (1509 - 1564)
 

bartholomeusnag3.jpg

St Bartholomeusnag massamoord, 1572

Gedurende die berugte St Bartholomeusnag van 23/24 Augstus 1572 is meer as 8000 Protestante, insluitende Admiraal Gaspard de Coligny, Goewerneur van Picardy en leier en spreekbuis van die Hugenote, in Parys vermoor. Dit het geskied tydens die huwelik van Hendrik van Navarre, 'n Hugenoot, met Marguerite de Valois (dogter van Catherina de Medici), toe duisende Hugenote in Parys saamgetrek was vir die huweliksfees.

Dit was Cathararina de Medici wat haar swakkeling-seun, Karel IX, ooreed het tot die massamoord, wat drie dae geduur en na die platteland versprei het. Op Sondagoggend 24 Augustus 1572 het Catharina self deur Parys se strate gewandel om inspeksie van die dooies te hou. Hendrik van Navarre se lewe word egter gespaar, danksy die feit dat hy voorgee om die Rooms Katolieke geloof aan te hang. In 1593 besluit hy om die Rooms Katolieke geloof te aanvaar, en 5 jaar later is hy as koning Hendrik IV (le bon Henri - goeie Hendrik) die onbetwisde heerser van Frankryk.

Toe die eerste gerugte van die massamoord op St Bartholomeusnag die Vatikaan in Rome op 2 September 1572 bereik, was pous Gregorius XIII jubelend en wou hy vreugdevure in Rome laat aansteek.

 Hy is oorreed om te wag vir die amptelike bevestiging van die nuus; dieselfde oggend van die dag waarop hy die bevestigende nuus ontvang het, het hy 'n dankdiens gehou en aangekondig dat "dit God behaag het om ons barmhartig te wees". Hy en die kardinale het vervolgens na die St. Markus-kerk verdaag om 'n Te Deum aan te hef, en het gebid en gebede versoek dat die Mees Christelike Koning van Frankryk sy hele koninkryk mag verlos en reinig van die Hugenote plaag.

Op 8 September 1572 is 'n dankseggings-optog in Rome gehou. Die pous het, in 'n gebed na afloop van die mis, God gedank dat hy "die katolieke bevolking 'n glorieryke oorwinning oor 'n verraderlike ras" gegee het  (gloriosam de perfidis gentibus populo catholico loetitiam tribuisti).

medal.gif

Gregorius XIII het Vasari opdrag gegee om tonele in een van die Vatikaan se lokale te skilder van die triomf van die Mees Christelike Koning oor die Hugenote. Het het 'n medalje laat slaan waarop die engel van verdelging die Hugenote met die swaard uitwis, met die inskripsie:  Hugonottorium strages (Hugenote samesweerders). In Frankryk self het die Franse owerhede bevel gegee dat 'n beeltenis van Admiraal de Coligny verbrand en dankgebede opgestuur en dankseggings-optogte jaarliks op 24 Augustus gehou word, uit dankbaarheid dat God die katolieke die oorwinning oor die Hugenote gegee het.

Die Edik van Nantes is op 13 April 1598 deur Hendrik van Navarre onderteken, wat 'n einde gebring het aan die Godsdiensoorloë.Die Hugenote was toegelaat om hul godsdiens te beoefen in 20 gespesifiseerde Franse vrystede. Frankryk is verenig en 'n dekade van vrede het gevolg.

Nadat Hendrik van Navarre egter in 1610 vermoor is, is die vervolging van die "afvalliges" egter weer in alle erns begin onder leiding van Kardinaal Richelieu. Die Hugenote se vrystede het die een na die ander verlore gegaan nadat dit deur kardinaal Richelieu se magte verower is, en die laaste vernaamste en sterkste vesting, La Rochelle, is in 1629 na 'n maandlange beleg prysgegee.

henri4.jpg
richeleu.jpg

Hendrik van Navarre

Richeleu

Lodewyk XIV  (die Sonkoning, 1643-1715) het sy leuse l'état c'est moi (ek is die staat) begin uitleef, en die berugte dragonnades ingestel waardeur dragondersoldate by Hugenote-gesinne ingeboek is. Hy het met 'n beleid van une foi, un loi, un roi (een geloof, een wet, een koning) die Edik van Nantes op 22 Oktober 1685 herroep. Die grootskaalse vervolging van Hugenote het opnuut en met groter felheid begin. 

Protestantse kerke en die huise van "hardnekkiges" is afgebrand en afgebreek, en hul psalmboeke en Bybels is verbrand. Baie Hugenote het op die brandstapel gesterf. Emigrasie is onwetting verklaar.

son-kon.jpg

Die Sonkoning

Vlug uit Frankryk.jpeg

Ten minste 200 000 Franse Hugenote het gevlug na lande soos Switserland, Duitsland, Engeland, Amerika, en Suid-Afrika waar hulle godsdiensvryheid kon geniet. Tussen 1618 en 1725 het tussen 5000 tot 7000 Hugenote vlugtelinge na Amerika uitgewyk.

Die grootste getal Hugenote vlugtelinge wat na die Kaap van Goeie Hoop gevlug het, het gedurende 1688 - 1689 gearriveer. Selfs voor hierdie groottskaalse emigrasie het individuele Hugenote vlugtelinge soos Francois Villion (1671) en die broersFrançois en Guillaume du Toit (1686) hulle aan die Kaap van Goeie Hoop gevestig. Teen 1692 was 'n totaal van 201 Franse Hugenote aan die Kaap woonagtig. Die meeste van hulle het hulself gevestig in die omgewing van die huidige dorp Franschhoek, sowat 70 km vanaf Kaapstad, waar vele van die plase nog hul oorponklike Franse naam dra.

'n Eeu later het die promulgering van die Edik van Verdraagsaamheid op 28 November 1787 die burgerlike en godsdienstige regte van die Hugenote in Frankryk gedeeltelik herstel.

bottom of page